Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

THE GROOTRIVIER POORT HIKING TRAIL

This hiking trail of 5 days run through a very diverse natural environment with amazing scenery, views, rock formations, plant life and of course the spectacular Grootrivierspoort.  Five different plant biomes merge in this area, offering a fascinating variety of flora and habitats.

 

 

Beskrywing van staproete

Dag 1:  Dit is ‘n redelik gelyk 10km 2-spoorpad en ons kon ‘n gemaklike pas handhaaf en genoeg stop vir foto’s voordat ons by Ghê-Ghê se kliphuisie ons sakke kon neersit.  Dit is ‘n gerestoureerde skaapwagtershuisie met ‘n binne kaggeltjie, die nodige ketel en rooster, borde en bekers, ‘n gasstoof en ‘n tafeltjie met stoele en bankies.  Daar sal aanstons stapelbeddens met matrasse wees.  Ons kon ons reinig onder ‘n emmerstort in die opelug en lekker op die onderdak stoep kuier.  Die middag en aand het daar ‘n lekker bui reën uitgesak wat die veld blink gewas het.

 

Dag 2:  Hierdie dag neem jou berg op en oor na Bennie se plaas en is ongeveer 14km.  Die eerste gedeelte gaan ‘n netjiese nuwe paadjie geleidelik teen die Paardenberg uit totdat dit jou bring by ‘n plato gedeelte en Geelpiet se huisie wat op die oomblik nog soebat vir restourasie.  Bergop het ons die mooiste plante, selfs broodbome en veldblomme gesien en die panoramiese uitsigte wat die Hanekamberg insluit het vir sielskos gesorg.  Geelpiet is ‘n lekker net oor die halfpad rusplek voordat die 2-spoorpad jou afneem tot by Gooseberry, ‘n volledig toegeruste kothuis.  Ons het vooraf met Bennie gereël vir ‘n braaipakkie en dit het gesorg vir ‘n welkome afwisseling van droë rantsoen. Ek weet nie of dit net ‘n spesiale vergunning was omdat ons die eerste groep was nie en dit ook ‘n soort van ‘n toets stap was om vir hulle terugvoering te kan gee nie.

 

Dag 3:  Weereens ‘n gemaklike stap wat wissel van 2-spoor en veldpaadjies van ongeveer 10km tot by Afdak wat weereens ‘n volledige toegeruste kothuisie is.  Hier het ons die werf gedeel met 12 perderuiters wat ‘n plesierrit oor ‘n paar dae gedoen het.  Bennie en Anine het vir hulle ‘n volledige gekookte aandete met melktert voorsien en het vooraf met ons gereël om te deel in die bederf.

 

Dag 4:  Nou gaan jy die Grootrivierspoort in waar die pad al langs die rivier loop met hemelhoë kranse aan beide kante. Die rivier word twee maal gekruis en daar is volop geleentheid om te swem, want die rivier het heerlike standhoudende poele.  Die voetpad neem jou vir ongeveer 11km tot by Blougat, ‘n grot met kampbedjies met matrassies, ‘n ketel en ‘n rooster, ‘n spoeltoeilet en ‘n salige diep poel om weereens in af te koel.  Hier was jy uit ‘n roomysbak en dra water uit die rivier vir die spoeltoilet.  Jy sal egter ‘n paling moet vang vir die rooster.

 

Dag 5:  Die voetpad neem jou nog vir ongeveer 3km al langs die rivier in die poort met nog altyd die masiewe kranse aan beide kante totdat die poort oopmaak en jy terug is in die oop veld en die pad jou huis toe neem vir nog 5km.

 

Die hele roete gee vir jou uitsigte oor die berge met volop voëls en neem jou oor ‘n terrein wat gedurig afwissel.  Die gradering sal wissel van dag tot dag, maar kan as gemiddeld tot effens moeilik beskryf word.  Hierdie is waarlik ‘n roete wat ek met groot vrymoedigheid kan aanbeveel en ‘n waardige toevoeging tot Suid-Afrika se 5-dag staproetes is.  Kontak Hannes Horn vir besprekings.